Vrae en Antwoorde

Wie is die teikenmark?
Ons storievertelling-aande is onbeskaamd gemik op die familie of paartjie wat ‘n opregte belangstelling in die geskiedenis het, wie werklik wil luister na vertellings van die beste spookverhale wat in die omgewing afspeel, asook diegene wat meer oor die bonatuurlike, die geestelike en die Goddelikheid te wete wil kom.
Normale en opgevoede teater-etiket is van toepassing tydens die storievertellings. Indien jy dit nie verstaan nie maar eerder wil fuif en partytjie hou, is hierdie aand nie vir jou nie. Dronk en luiddrugtige persone sal die vertellings glad nie waardeer nie, die uitstappie vervelig vind en daarom ook onwelkom voel. Daarom akkomodeer ons ook nie sosiale groepe, funksies of blokbesprekings (soos bv. vir korporatiewe-, spanbou-, verjaarsdag- of klubuitstappies) nie.
Gaan ek ‘n spook sien?
Ons roep nie geeste op of jag spoke nie. Dit is onnodig, want die geesteswêreld is permanent om ons teenwoordig en openlik vir almal om te ervaar wie hulle daarvoor ontvanklik maak. Diegene vind gereeld orbs- en ander bonatuurlike verskynsels op die foto’s wat hulle geneem het, of kry koue rillings op ander plekke. Maar dit bly uiteraard die fenomeen se eie keuse of hulle hul teenwoordigheid wil wys al dan nie.
As jy die geleentheid wil bywoon met die doel “om ‘n spook te sien”, is jy beslis by die verkeerde plek.
‘n Ouderdomsbeperking?
Nee, nie van ons kant af nie. Ouers ken hul kinders en sal self weet of hulle gereed is om ‘n teater-op-wiele-aanbieding soos hierdie, wat ongeveer 4½-ure lank duur, mee te maak. Ons ondervinding is egter dat kinders van jonger as 16 moontlik nie aanklank hierby sal vind nie, maar dit bly die ouers se eie keuse.
Dit is verder ook net logies dat voorskoolse kinders en babas nie geakkommodeer kan word nie.
Is die aanbieding nie on-Bybels nie?
Ons onderskryf die Christelike geloof wat glo dat die geesteswêreld wel bestaan waarvan die Bybel ook vol voorbeelde is. Verder is daar wêreldwyd letterlik miljoene vertellings van mense wat dit ervaar het. Dink maar aan gevalle soos naby-dood-ondervindings of waar die gees van ‘n afgestorwene aan ‘n geliefde verskyn om vertroosting of advies te bring. Tydens die aanbieding vertel ons meer hiervan.
Die deurlopende tema is dat die Goddelikheid, asook die Hemel of Paradys, wel ‘n werklikheid is.
Hoe bespreek en betaal ek?
Voordat jy bespreek, maak seker jy weet wat die aanbieding behels sodat jy nie jou geld sal mors nie. Kaartjieverkope is nie ons prioriteit nie; veel eerder gaste wat almal die aand sal geniet.
Eers wanneer jy seker is dit is vir jou, bespreek dan aanlyn vanaf hierdie webwerf waarna jy jou bevestigingsbrief binne 12 ure sal ontvang met al die verdere nodige besonderhede.
Sitplekke is onderhewig aan beskikbaarheid en is eers geldig na jou betaling met ‘n EFT gemaak is en jy ‘n bevestigings-epos ontvang het.
Hoe bly ek op hoogte van toekomstige datums?
Maklik! Sluit aan by die Facebook-blad of loer net gereeld in by hierdie webblad waar die nuutste datums gepubliseer word.
Hoeveel kroeg- of restaurantbesoeke is daar?
Ons besoek nie ritse drinkplekke of restaurante om die tyd te verwyl nie, want die aand is reeds vol gepak met talle klassieke spookverhale en geskiedkundige vertellings. Hierdie aanbieding is nie ‘n “partytjiebus” nie. Dit is dan ook logies dat geen koelsakke met wegneem-etes of drank saam geneem mag word nie. Daar is wel ‘n klein snoepie op die bus beskikbaar met koeldrank, water en chips om die innerlike te versterk.
Watter plekke word besoek?
Hierdie uitstappie is nie ‘n tradisionele “toer” met die doel om “plekke en geboue te besoek” nie.
Dit is ‘n teater-op-wiele aanbieding waar die klem op die storievertellings val. Hierdie storievertellings geskied wel op verskillende plekke: op die bus asook van die bus af.
Om egter voor die tyd te wil weet watter stories vertel word en waar elkeen afspeel, is om soos vir ‘n regisseur van ‘n teaterstuk te vra wat is die drama se storielyn en hoe lyk die verhoogdekor. Dit sal jou uiteindelike belewenis daarvan totaal vernietig.
Die program kan wel effens van uitstappie tot uitstappie verskil.
Die Pretoria Spookbus loop weer op 27 Oktober en 17 November (Bespreek nou) deur die donker strate van die Jakarandastad, opsoek na al daardie legendariese stories wat in die stad en sy ou geboue afspeel. Stories van mense wat vanslewe hier gewoon en gewerk het, maar waarvan sommiges vergeet het om te vertrek. Spookstories. Inligting oor die bonatuurlike. ‘n Multi-media geskiedkundige uitstappie. Foto’s van orbse en ander vreemde verskynsels.

Bespreek nou