OORSIG

Klim op die storiebus en word weggeneem in die donkerte van die nag . . .
Hoewel party mense soms na die pta-SPOOKBUS-uitstappie as ‘n toer verwys, is dit egter nie ‘n tradisionele toer met die uitsluitlike doel om geboue en plekke te besoek of te besigtig nie. Dit is eerder ‘n Storie-op-Wiele-uitstappie waar jy as reisende gehoorlid per bus deur die strate van die Jakaranda-stad geneem word terwyl jy luister na al daardie nostalgiese stories wat in die donker opgesluit lê.
Anders as in ‘n statiese verhoogproduksie vind hierdie aanbieding op verskillende plekke plaas: hoofsaaklik op die bus tydens die rit, maar ook van die bus af wanneer ons onverwags hier en daar afklim vir nog stories.
Die program bestaan uit vertellings van ware spookverhale waarvan die meeste in Pretoria afspeel, maar ons sluit ook ‘n paar stories in vanaf elders in die land. Verder bied die aand jou basiese agtergrond-inligting oor die bonatuurlike en die geesteswêreld. Herontdek tussen dit alles deur die interessante geskiedenis van die omgewing wat toentertyd ‘n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van die stad.    
Ons maak ook ‘n storie-draai by die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) wat destyds ‘n reuse invloed op Pretoria en die voormalige Transvaal gehad het. 
Aangebied sewe keer per jaar in Pretoria, vanaf die Hokaai Sentrum in Faerie Glen. Die storie-uitstappie duur ongeveer 4½ ure.
Lees ook die Vraag-en-Antwoord-blad: link na V&A
Is jy gereed hiervoor? Kom klim dan op. Maar wees gewaarsku: wanneer jy die gedreun van die bus-enjin onder jou hoor, is daar geen omdraai-kans meer nie . . .

meer inligting inverband met toere

Pretoria Spookbustoer

  • Toer per storiebus op ‘n Saterdagaand deur die donker strate van die Jakarandastad.
  • Luister na van die spookverhale wat hoofsaaklik in Pretoria, maar ook elders in die land, afgespeel het.
  • Herontdek die geskiedenis van die stad en sy ou geboue.
  • Leer meer oor die bo-natuurlike en die verskillende tipe geestesverskynsels om ons.
  • Vertrek net na skemer by die Hokaai-sentrum in Faerie Glen en keer ongeveer 4½ uur later terug.
  • Veilige parkering, met ‘n motorwag, is by die sentrum beskikbaar.
  • Besprekings teen R265 per persoon kan hier aanlyn gedoen word.

BELANGRIKE INLIGTING

  • Sitplekke is onderhewig aan beskikbaarheid en is eers geldig na betaling en jy jou bevestigingsbrief ontvang het.
  • Kaartjies is nie-terugbetaalbaar indien jy om watter rede ook al die bus sou verpas, en kan ook nie oorgedra word na ‘n volgende datum nie.
  • Normale en opgevoede teater-etiket is van toepassing. Indien jy eerder wil fuif en partytjie hou, is hierdie toer nie vir jou nie. Dronk en luiddrugtige persone sal die vertellings glad nie waardeur nie. Hulle sal die aand vervelig vind en daarom ook onwelkom voel.
  • Ons akkommodeer geen sosiale groepe, funksies of blokbesprekings (soos bv. vir korporatiewe-, spanbou-, verjaarsdag- of klubuitstappies) nie.
  • Geen koelsakke, drank of kos word op die bus toegelaat nie.
  • Na jou bespreking sal jy ons kwartaallikse nuusbrief met interessante brokkies per epos ontvang, maar jy kan enige tyd daarvan uitteken sou jy wou.

TERUGVOERING VAN 2018-GASTE

Loading…