OORSIG

Ervaar ‘n teater-aand gelaai met gedramatiseerde en aangrypende spookstories. Vertellings wat koue rillings deur jou lyf stuur of ander wat jou kop in ongeloof sal laat skud.

Op die spyskaart wag stories vir jou soos die meisie wat langs die Fochville/Potchefstroompad duimgooi en bedel vir ‘n saamry-geleentheid, kort nadat sy ‘n uur van te vore in ‘n motorongeluk gesterf het. Of die plaasvrou in die Noordkaap wat skuins na middernag deur ‘n verskynsel wakker gemaak is wat haar soebat om saam met haar te kom. Sowat 500 meter vanaf die plaashuis beduie die verskynsel na ‘n plek in die grond en sê: “Dit is waar my man my 30 jaar gelede begrawe het . . .  nadat hy my vermoor het.”

Ook die storie van die vrou wat tydens haar ma se begrafnisdiens ‘n SMS kry vanaf haar oorlede ma se nommer. Die SMS-boodskap was: “ Dankie, ek het veilig gearriveer.”

Die storievertellings deur Jaco Hough-Coetzee word ingekleur en vermeng met die musiek van die sangpaar DIE VENSTER, met Charl Erasmus en Angelique Greffrath.

Luister na tydlose treffers met spookagtige ondertone soos “Skadu’s teen die muur” (Koos du Plessis), “All I ask of you” (Andrew Lloyd Webber) en “Kerse teen die donker” (Amanda Strydom). Angelique bring ook haar 2021-radiotreffer “Safe outside”, waarin sy wonder of dit veilig daarbuite is.

Maar is dit? Want geen van die stories op die aand se program is fiksie of uit die duim gesuig nie. Alle vertellings is gebaseer op ware verhale wat reeds in die media of ander publikasies gepubliseer is of op ervarings wat persoonlik met ons gedeel is.

Sien jy kans hiervoor?

Wees egter gewaarsku: nadat jy jou plek ingeneem en jy jou wynglas gevul het, sal die ligte afgaan en die buitehek gesluit word. Dan is daar geen ontsnapkans meer nie. Dan word jy vir 90 minute lank weggevoer en geboei deur DIE-anner-LEWE.

Bring jou vriende saam, want jy wil nie alleen daar buite in die donker wees nie . . .  

Dit alles wag op jou tydens ons aanbieding, Die-anner-LEWE.

Komende vertoning:

Saterdag 11 Des 2021, 18:30 vir 19:00, WS Pianos-venue, Pretoria, R150 p/p

Meer besonderhede hier 

Bespreek hier

Lees ook die Vraag-en-Antwoord-blad