oorsig

Daar was ‘n tyd – lank, lank gelede – toe mense nog nie aan televisie en selfone verslaaf was nie. Toe families en vriende saans in die kuierkamer, op die stoep of langs die kampvuur bymekaar gekom en die heerlikste spookstories, staaltjies en legendes uit die verlede met mekaar gedeel het.
Tydens ons uitstappie is dit presies wat jy weer kan herleef: ‘n aand propvol storievertellings aangebied deur die joernalis en skrywer, Jaco Hough-Coetzee.

Hoewel daar soms na hierdie uitstappie as ‘n toer verwys word, is dit egter nie ‘n tradisionele toer nie. Dit is eerder ‘n Teater-op-Wiele-aanbieding waar jy as “reisende gehoorlid”per bus deur die strate van die Jakaranda-stad geneem word terwyl jy luister na al daardie nostalgiese stories wat in die donker opgesluit is. Anders as in ‘n statiese verhoogproduksie, vind hierdie vertellings op verskillende plekke plaas: op die bus tydens die rit asook van die bus af wanneer ons onverwags hier en daar afklim vir nog stories.

Die inhoud van die aand se program word saamgestel onder die volgende drie hoofkategorieë:

  • Spookstories

  • Inligting oor die geestelike en bonatuurlike

  • Geskiedkundige agtergrond

Hierdie drie kategorieë word deur die verloop van die aand aanmekaar gevleg om een geheel te vorm.

Spookstories

Vertellings van die beste spookstories waarvan die meeste gedokumenteer en geboekstaaf is. Dit sluit klassieke en bekende verhale in soos Die ryloper van Uniondale, Daisy de Melker en die Vliënde Hollander. Maar ook minder bekende verhale soos Elfie van die Victoria Hotel, Die soldaat op die PTA-stasie, Die Kerkstraatbom-slagoffers en die Teaterspoke van PTA.

Ook in die program is hartroerende verhale van mense wat hul persoonlike ervarings met ons gedeel het.

Inligting oor die geestelike en bonatuurlike

Om te verstaan wat die oorsprong van sogenaamde spookstories is, gee ons in hierdie informatiewe kategorie meer inligting oor die verband tussen spooksstories en die bonatuurlike. Ons verduidelik en behandel ook die verskillende tipe spookverskynsels wat ‘n mens kry, wat onder andere insluit die Herhaalspook, Bose Gees en Vertroostingspook. Ander verskynsels soos orbse en rookverskynsels wat op fotos verskyn, word ook verduidelik.

Daar is stories van mense wat deur ‘ n onsigbare energie van ‘n ongeluk of dood gered is, asook verhale van mense wat glo hulle het ‘n besoek aan die hemel gebring.

Die deurlopende tema is dat daar wel lewe na die dood is, en dat die afskakeling van die menslike liggaam nie beteken die siel of persoonlikheid van jou geliefde is tot niet nie. Hulle is steeds met jou, maar net op ‘n ander energievlak. Daar word ook verduidelik hoe jou geliefde wat na hierdie ander dimensie verhuis het, steeds kontak met jou probeer behou. Want eintlik is hulle nie weg nie . . .

Geskiedenis

In die meeste van die spookvertelling wat op die aand se program is, deel ons ook die geskiedkundige agtergrond en omstandighede van die plek waar die spesifieke storie afspeel om die storie in konteks te plaas.

Byvoorbeeld, as ons vertel van die vreemde verskynsels in die Nottingham Road Hotel in die Natalse Middellande, luister ons ook kortliks na die geskiedenis van die hotel en die verhaal van ‘n prostituut wat dekades gelede daar selfmoord gepleeg het. 

‘n Verdere deurlopende geskiedkundige tema gedurende die aand is die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902). Pretoria, as die destydse hoofstad van Transvaal onder die leierskap van pres. Paul Kruger, het sentraal gestaan in die gebeure rondom hierdie oorlog wat later beskryf is as die felste en bloedigste oorlog ooit wat nog op Suid-Afrikaanse grondgebied gevoer is. Daarom is dit ook nodig om na hierdie stuk geskiedenis te kyk.  

Is jy gereed hiervoor? Kom dan saam en word weg geneem in die donkerte van die nag.
‘n Aand uit wanneer ons terugstap in tyd; terug op die voetspore van hulle wat lank voor ons hier gewoon, gewerk en geleef het – maar waarvan sommiges vergeet het om te vertrek . . .

Jou storieverteller is Jaco Hough-Coetzee

Tydens die aand word van die ware spookstories wat in die omgewing afspeel, vertel. Ons kyk ook na die interessante geskiedenis rondom ons storieroete.

Die Pretoria Spookbus loop weer op 27 Oktober en 17 November (Bespreek nou) deur die donker strate van die Jakarandastad, opsoek na al daardie legendariese stories wat in die stad en sy ou geboue afspeel. Stories van mense wat vanslewe hier gewoon en gewerk het, maar waarvan sommiges vergeet het om te vertrek. Spookstories. Inligting oor die bonatuurlike. ‘n Multi-media geskiedkundige uitstappie. Foto’s van orbse en ander vreemde verskynsels.

Bespreek nou