| |
Word geeste opgeroep?
Nee, onder geen omstandighede nie. Ons mag dit nie doen nie, maar dit is ook nie nodig nie: want die geesteswêreld met al sy bonatuurlike verskynsels is permanent om ons teenwoordig. Wanneer 'n vreemde manifestasie of orbs-verskynsel egter wel op iemand se kamera te voorskyn kom, gebeur dit uit die fenomeen se eie keuse.
Enige waarborg om ‘n spook te sien of bang te word?
Nee, geensins. Die doel van die produksie is nie om mense skrik te maak of om geeste of spoke “te jag” nie, maar eerder om meer te leer oor die geesteswêreld, die energieë om ons, en die geskiedenis van Pretoria se ou geboue. En natuurlik om te luister na vertellings van al daardie lekker klassieke en moderne spookverhale en legendes.
Is dit paartie-tyd?
As dit is wat jy wil hê, is jy beslis op die verkeerde plek! Die Pretoria Spookbus Produksie is nie ‘n paartie-drink-aand nie, en ook nie een van kroeg- en restaurantbesoeke nie.
Daar word ook geen drank, koelsakke en piekniekmandjies – of dronk, luidrugtige en onwelvoeglike persone –op die bus toegelaat nie. ‘n Klein snoepie is egter tydens die aand beskikbaar.
Wat moet ek saambring?
Jou kaartjies – vir toegang op die bus.
'n Warm baadjie of jas – dit kan soms koud raak daarbuite, veral gedurende die wintermaande.
'n Sambreel en reënjas – indien dit sou lyk of dit gaan reën.
Kontant – vir verversings langs die pad.
'n Flits – dit is donker in sommige plekke.
Gemaklike skoene – daar word heelwat stapwerk gedoen.
'n Kamera – want dalk is jy een van die gelukkiges wat 'n orbs of ander bonatuurlike manifestasies uit die geesteswêreld op jou kamera gaan waarneem.
Is daar enige reëls?
Al wat jy hoef te doen is om rustig terug te sit en die aand te geniet terwyl jy na al die vertellings, ware verhale en historiese inligting luister.
Soos by enige publieke produksie moet respek aan ander getoon word, daarom geld normale teater-etiket tydens die aand. Mense wat nie oor dié etiket beskik nie, sal langs die pad afgelaai word. Dit geld veral vir gehoorlede wat dronk is en die produksie ontwrig met onnodige en luidrugtige tussenwerpsels.
Onder geen omstandighede sal enige persoon toegelaat word om tydens die aand glasie-glasie of ouija-bord te speel nie, of om op enige wyse geeste op te roep nie.
Is die begrip van geeste nie teen die Bybel en die Christelike geloof nie?
Nee. Die Christelike geloof – net soos die meeste godsdienste wêreldwyd – glo dat die mens 'n individuele skepsel is wat uit twee verskillende substansies gevorm is: naamlik die gees (maw die menslike siel) en die materie (maw die menslike liggaam). Die oortuiging is dat hierdie twee substansies, die siel en die liggaam, onafhanklik van mekaar bestaan. Die liggaam word beskou as 'n tydelike en verganklike verskynsel – teenoor die siel, of gees, wat as 'n ewigdurende fenomeen nie deur die menslike dood geraak word nie.
Wie is die teikenmark?
Mense wat 'n belangstelling in die geskiedenis van die ou geboue in Pretoria toon, en graag wil luister na die ware spookverhale wat in dié geboue afspeel, sal beslis die produksie baie insiggewend en interessant vind. Die aanbieding is verder gemik op die persoon wat meer kennis wil opdoen oor die bestaan van die geesteswêreld, en wil weet op watter maniere geeste met die lewendes op aarde kommunikeer.
Ek wil bespreek en bywoon; wat doen ek nou?
Voordat jy finaal besluit om die Spookbus Produksie by te woon, maak heeltemal seker jy weet wat om te verwag – ons wil nie hê dat jy teleurgesteld sal wees en jou geld mors nie. Lees dus al die inligting op hierdie webtuiste noukeurig sodat jy ‘n ingeligte besluit kan neem.
Kliek dan op die besprekingsskakel waar jy die datums van die volgende produksies sal vind, asook ‘n besprekingsvorm. Nadat jy die vorm voltooi en gestuur het, sal die besprekingskantoor aan jou ‘n bevestigingsbrief stuur met besonderhede van waar die bus vertrek, asook met die bankbesonderhede sodat jy jou kaartjies by wyse van EFT binne vyf dae kan betaal.
Indien jou betaling nie betyds ontvang word nie, verbeur jy jou plekke op die bus. Kaartjies kan ook nie tydens die aand van die toer by die bus gekoop word nie.
|
|
|