| |
Die meeste godsdienste wêreldwyd – net soos die Christelike godsdiens – aanvaar hierdie dualistiese sienswyse en beskou die liggaam slegs as 'n tydelike en verganklike verskynsel. Daarteen word die menslike siel, of gees, as 'n ewigdurende fenomeen voorgestel wat nie deur die menslike dood geraak word nie.
Volgens hierdie uitgangspunt word dit aangeneem dat die siel ná die afsterwe van die mens na 'n ander plek, of wêreld, sal gaan – soos byvoorbeeld die Hemel of Paradys van die Christendom en Islam, of die Nirvana van die Boeddhisme. Sommige denkrigtings noem dié plek ook die Geesteswêreld.
Maar, daar word gesê dat die siel egter nie altyd daarin slaag om onmiddelik na dié ander wêreld te gaan nie, en dan bly dit in die stoflike wêreld gevange.
Volgens tradisionele denkrigtings kan dit veral gebeur wanneer die dood van die persoon deur ‘n tragiese gebeurtenis soos moord, selfmoord of ‘n ongeluk veroorsaak is.
Daar word aangeneem dat die gees van die oorledene dan gereeld as 'n spook by die toneel van sy tragiese afsterwe verskyn. Een van die bekendste plaaslike voorbeelde hiervan is natuurlik die hartseer verhaal van die spookmeisie van Uniondale.
Is dit ‘n orbs op my foto’s?
Die doel van die Pretoria Spookbus Produksie is beslis nie om spoke te jag, op te roep of te laat verskyn nie. Tog neem gaste gereeld bonatuurlike verskynsels waar op die foto’s wat hulle tydens die aand neem, waarvan die meeste orbse of ekto-plasma is. Dié twee verskynsels is ook baie maklik om te herken.
‘n Orbs is ‘n geestesverskynsel wat nie deur die menslike oog waargeneem kan word nie, maar wel deur ‘n kamera wat in die vorm van ‘n deurskynende ronde ligbal op foto’s verskyn. In die mees eenvoudigste manier kan dit verduidelik word as die energiekring wat rondom ‘n gees sigbaar is. Hoewel ‘n gees self kan besluit om homself nie sigbaar te maak nie, is dit hierdie energiekring van hom wat tog dikwels op foto’s verskyn. Hierdie orbs-verskynsels word hoofsaaklik aangetref op plekke waar daar ‘n groot konsentrasie van geestesteenwoordigheid is, asook naby mense, water en in bome.
Ongelowiges sal natuurlik altyd orbs-verskynsels afmaak as die gevolg van ‘n vuil kamera-lens of stofpartikels in die lug. Maar dit is eintlik baie eenvoudig om die onderskeid te tref.
Kyk na die volgende: wanneer jy ‘n vuil kol op jou kameralens het, sal daardie kol op elke foto wat jy op ‘n spesifieke aand neem, verskyn. Indien nie, is dit nie jou lens se skuld nie . . . maar dalk iets anders naby jou waarvan jy nie bewus was nie.
Stofpartikels of motte wat voor jou kameraflits verbybeweeg, sal ‘n blink, soliede en ondeursigbare merk op jou foto’s laat. Daarenteen is ‘n orbs deurskynend sodat jy die agtergrond ook kan sien, en is in die meeste gevalle minder helder.
In die geval van ‘n orbs, sal jy die ronde energie-kringe in die ligbal opmerk wanneer jy die foto op jou rekenaar vergroot. En dikwels verskyn daar dan ook die fisieke gelaatstrekke van ‘n menslike gesig binne die bal. Iets wat nie die geval is met ‘n vuil lens of stofpartikel nie.
Hierdie energieverskynsels kan ook manisfesteer as ‘n ektoplasma – maw ‘n waserige rookverskynsel. As jy so iets op jou kamera sien, dink dadelik: het iemand naby my gerook toe ek die foto geneem het, of kon my hare voor die lens verby gewaai het.
Indien nie . . . wel, dan was dit beslis iets anders.
Om saam te vat: orbse, of te wel die energieballe wat saam met ons beweeg, is deurskynend en is altyd ‘n entjie verder weg vanaf die punt waar die foto geneem is. Die merk wat ‘n vuil kameralens maak is solied, en direk op die voorgrond.
Net so is die ware ektoplasma-waasagtige-verskynsels ‘n ent weg vanaf die kamera, teenoor iets natuurliks wat voor die lens verbybeweeg, direk op die voorgrond sal wees.
Om die Pretoria Spookbus Produksie ten volle te geniet, maak al daardie toegesluite waarnemingssintuie van jou oop. Dan sal jy dadelik instinktief aanvoel wanneer iets bonatuurliks naby jou is. Dit is dan wanneer jy net jou kamera moet kliek, kliek, kliek. En wie weet wat jy later op die foto’s sal vind . . .
Wat is polterspoke?
Daar word gesê dat geeste ronddwaal, maar polterspoke – of dan poltergeist soos dit meer algemeen bekend staan – teister. Hulle is onnutsig, en sal enige iets doen: van die maak van geluide tot die rondbeweeg van voorwerpe. Hulle kan manifesteer as stemme of donker vorms. Party van hulle is selfs geneig om teen mure te wil skryf. Hulle kan jou vasdruk en letterlik die lug uit jou longe druk, of hulle kan 'n gebou of huis uit die bloute aan die brand laat slaan, soos die poltergeist-geteisterde huis in Kensington, Johannesburg, wat in die laat 1960’s oor ‘n tydperk willekeurig aan die brand geslaan het. Keer op keer wanneer die brandweer opdaag, het die vlamme hulself weer geblus.
In uitsonderlike gevalle kan poltergeist’s selfs ander mense vermoor, soos die geval van die berugte Bell heks wat John Bell in Amerka in die 1800’s vermoor het.
Poltergeist verskynsels kom wêreldwyd reeds sedert die antieke tye voor, maar dit was egter eers in die 1970’s dat twee navorsers van die bo-natuurlike, Alan Gauld en A.D. Cornell, ‘n rekenaar-ontleding van die gerapporteerde voorvalle sedert 1800 gedoen en sodoende 63 algemene karakter-eienskappe van poltergeist’s gedokumenteer het.
Hulle het bevind dat in 64% van die gevalle was daar die verskuiwing van kleinerige voorwerpe, soos bv. breekware en klerasie, betrokke. Die rondskuif van groot voorwerpe, soos meubelment, het in 36% van die gevalle plaasgevind.
Meer as die helfte, 58%, was die meeste aktief snags, met 24% van die verskynsels wat oor ‘n periode van langer as ‘n jaar plaasgevind het.
Voor die 19de eeu is poltergeist-verskynsels hoofsaaklik aan satan, demone, hekse en geeste van die dooies toegeskryf, maar die Gauld-Cornell verslag kon slegs 10% van die voorvalle hieraan verbind.
Moderne 20 eeuse navorsing wil dit nou hê dat poltergeist verskynsels nie geeste is nie, maar boosheid is wat geskep word uit negatiewe energie wat deur die brein van die mens opgewek word. Dit sluit in intense woede, haat, seksuele spanning, histerie en angs. Gedurende dié toestand vloei negatiewe energie vanaf die persoon se brein oor na die natuur, wat dan later poltergeist verskynsels veroorsaak.
Hierdie negatiewe energie wat die mens opwek, en dan almal om hom negatief beïnvloed, kom in sy heel ligste vorm baie algemeen in die meeste huishoudings en vriendskapskringe plaas. Dink maar net aan negatiewe emosies en dade soos skinder, sleg praat van ander, huweliksontrou en bedrog. Wanneer jy dan in hierdie kringe beweeg, voel jy dadelik die negatiwiteit aan.
Mense maak dan gebruik van sinne soos “ek voel ongemaklik in daardie persoon se geselskap”, terwyl in mense se geselskap wat net lig en liefde uitstraal, jy weer baie veilig en warmte sal ervaar.
Dit is hiérdie energie wat jy uitstraal, hetsy dit positief of negatief is, wat die omgewing, jouself, en almal om jou, beïnvloed. Alle religieuse handleidings, soos onder andere die Bybelse begrip van naasteliefde en die Hindoes se karma-teorie, bevestig hierdie geestelike konsep.
Wees dus baie versigtig wat jy dink en hoe jy teenoor ander mense op tree. Want die mag van die brein is veel kragtiger as wat jy ooit sal besef. Daardie negatiewe breinenergie wat jy opwek, spoel oor na die natuur - en dit sal terugkeer na jou toe. In 'n formaat skrikwekkender as wat jy ooit sal dink.
|
|
|